Galasiërs 2: 15-21

Geloof is die wyse waarop ons in ’n verhouding met die Drie-enige God staan. Christus se kruisdood en opstanding kom bevestig dié verhouding. Uit dié gebeure word God se liefde vir ons duidelik.

Christus vorm die middelpunt van ons geloof. Om in Christus te glo, bring ’n nuwe lewe tot stand. Paulus verwys daarna dat die nuwe lewe, in terme van ons geloof, nie handel oor ’n stel reëls wat ons moet volg nie, maar eerder daaroor gaan dat ons sal leef soos God van ons verwag – om te leef in liefde soos Christus ons kom wys het. Hierdie nuwe lewe verg ook van ons om op ’n ander wyse te glo. Om te glo, beteken om te vertrou. Om in Christus te glo, beteken dat ons al ons vertroue in Hom sal plaas; om te vertrou dat Hy sal voorsien. God het in die verlede voorsien en Hy sal ook in die toekoms voorsien, ons moet daarom ons vertroue in Hom plaas. Dit is wat geloof beteken, om op God te vertrou.

Geloof is die menslike reaksie op God se genade. Geloof stel ons in staat om in dankbaarheid teenoor God te leef oor dit wat Hy deur Jesus vir ons kom doen het. Dié geloof kan nie uit onsself kom nie, die Gees stel ons in staat om te glo en om dit uit te leef. Daarom skenk Christus vir ons die Gees met sy hemelvaart. Die Heilige Gees is die teken dat Jesus ons nooit verlaat nie en te alle tye met ons sal wees. Die Gees bied vir ons leiding om in dankbaarheid te leef. Die Gees help ons om ons vertroue in God te plaas. Ons kan vertroue hê omdat ons God se genade op ’n konstante basis ontvang; die Gees is die bewys daarvan.

Christus bevestig dat ons God se kinders is, en die Gees laat ons hierdie ervaring tot in ons diepste wese beleef. Die Gees stel ons in staat om God ons Vader te noem. Daardeur word ons verhouding met ons liefdevolle God bevestig en versterk. Daarom kan ons altyd vertroue in God hê.

Prop Hanri Reichel, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap