Markus 2: 1-12

Jesus en sy dissipels is terug in Kapernaum. Maar soos dit in klein dorpies gaan, het die woord gou versprei dat Jesus terug is, en omdat mense van sy bediening gehoor het, sy wonderwerke gesien het, wou hulle na Hom luister. Hulle kon nie anders nie as om na Petrus se huis te stroom waar Jesus besig was om te bedien. Daar was so baie mense dat hulle die deur van Petrus se huis volgestaan het en in die straat af.

Terwyl Jesus besig was om die Woord te verkondig, sien die skare in die straat toe ’n klompie mense aankom, en hulle dra iemand. Die persoon kan nie self loop nie, hy is verlam. Aangesien die mense die ingang van Petrus se huis toegestaan het, besluit die vier manne om met die buitetrap op na die platdak toe te gaan. Hulle breek Petrus se huis se dak stukkend, die stof en klei val oral in die huis, maar hulle moet die man, hul vriend, by Jesus uitkry sodat Hy hom kan genees.

Die vier vriende was diep bekommerd oor hul verlamde vriend. Hulle sou alles in hul vermoë doen om hom te help. Hulle het geloof gehad in wat Jesus kon doen, dat Jesus hom sou genees. Het jy so ’n vriend? Kwalifiseer jy om ’n goeie vriend te wees, of diskwalifiseer jy jouself? Want as dit nie oor jou gaan en jy nie voordeel uit die vriendskap kry nie, baat dit jou niks. Sal jy jou vriend help om vir hom of haar wat geestelik verlam is, die pad te wys na die Here toe?

Gebed

Here, onse God, vandag kom staan ons voor U en bely dat ons nie lewe soos U van ons vra nie. Kyk binne ons vandag en verwyder alles wat nie by ’n kind van God moet voorkom nie. Die Spreukeskrywer sê daar is ’n vriend nader as ’n broer of suster – help ons om so ’n vriend of vriendin vir ander te wees. Amen.

Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

Share via
Copy link
Powered by Social Snap