Markus 9: 2-29

Dit was noodsaaklik dat Jesus die sondaarsdood moes sterf. Hy moes ook opstaan. Die vraag is of ons die betekenis van sy dood en opstanding begryp en glo.

Jesus word op die berg verheerlik. Hy neem drie dissipels met Hom saam: Petrus, Jakobus en Johannes. Die tyd van Jesus se dood en opstanding het nader gekom. Op die berg het hulle ’n beléwenis gehad toe Jesus se voorkoms voor hul oë verander. Hulle het vir Moses en Elia gesien. Die stem uit die wolk het hulle baie bang gemaak. Dit was die stem van God die Vader wat sy Seun verheerlik, met die drie dissipels as getuies. Die Vader bevestig dat sy Goddelike liefde Jesus in sy lyding en dood sal dra. Die dissipels sou kon getuig dat Hy werklik die Seun van God is, die beloofde Messias. Maar hulle kon dit eers vertel nadat Hy opgestaan het. Dan kan en moet hulle dit verkondig. Dan sou mense verstaan wie Jesus werklik is.

Terug aan die voet van die berg wag mense in hul ellende op Hom. Die kontras tussen die verheerliking op die berg en die ellende aan die onderkant is duidelik. Bo is die lig, onder is die skadu’s. ’n Man kniel voor Jesus in sielesmart. Sy enigste seun is siek en ly verskriklik. Die seun was boonop stom, alles die werk van ’n bose gees. Die pa smeek Jesus om genade en ontferming. Die dissipels kon hom nie gesond maak nie. Hul geloof was te klein. In Markus 9: 23 sê Jesus: Vir die een wat glo, kan alles.

Ons geloof skiet ook dikwels tekort. Geloof kan berge versit. In hierdie ontaarde wêreld is geloof ons enigste anker, is Jesus ons enigste hoop. Hy het ons gered. Ons mag nooit twyfel nie. Al lyk ons omstandighede hoe uitsigloos, ons moet volhard in geloof en gebed. Ons mag nie ontaard nie. Soos die pa moet ons uitroep: Ek glo! Help my in my ongeloof.   

Ds Willem Kok, Potchefstroom

af
af
Deel met behulp van
Copy link