1 Johannes 5: 9-13

Die gemeenskap aan wie die outeur van 1 Johannes skryf, is een wat oorweldig is deur onsekerheid. Dwaalleraars het hierdie gemeente verwar deur vir hulle te vertel dat Jesus nie die Christus is nie. Hierdie mense wou nie erken dat Christus volledig mens geword het om vir ons sondes te sterf nie. Te midde van hierdie verwarring en onsekerheid, vertel die outeur vir die mense in hierdie gemeente hóékom hulle wel seker kan wees.

Amper soos ’n hofsaak waarin ’n getuie sy kant lewer, sê die outeur: Ons aanvaar dan die getuienisse van mense wat al hierdie dinge aangaande Jesus gesien het, hoeveel te meer kan ons dan God se getuienis glo? God self het Jesus geëien as sy Seun, by sy doop en by die verheerliking op die berg.

In die Psalms lees ons God is barmhartig en genadig, lankmoedig, vol liefde en trou. Sy getuienis kan ons dus glo en vertrou: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun (vers 11). Te midde van twyfel en verwarring, wil die outeur hierdie gemeente met ’n stukkie geloofsekerheid die wêreld instuur – die sekerheid dat hulle in die ware gemeenskap met God lewe en die ewige lewe het.

Vandag is daar net soveel verwarring en verskillende aansprake op die waarheid. Wie of wat moet ons dan glo? Kan ons nog enigsins glo? Dan hoor ons weer vers 10: Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy of haar hart. Ons kan dus rus vind in die hartswete dat ons deur sy Seun ’n nuwe lewe het.

Gebed

Here, in hierdie wêreld word ons gekonfronteer met soveel dinge wat maak dat ons twyfel. Here, ons wonder hoe ons geloof inpas by hierdie wêreld wat so vinnig verander. Here, gee ons asseblief die rustigheid van hart dat ons kan weet, al verander die wêreld en mense hoe, ons kan seker wees van u liefde en genade. Amen.

Ds Erika Ferreira, Bellville

af
af
Deel met behulp van
Copy link