Matteus 17: 24-27

Die woord teorie word van die Griekse woorde vir God en om te kyk afgelei. Om ’n teorie te hê, aanduidend van die menslike ego, beteken dus om soos God te kyk. Elkeen wat leef, het ’n ander teorie oor wat die lewe is en wat ’n mens moet nastreef. Die enigste universele element wat teorieë oor die lewe kenmerk, is die verganklikheid daarvan.

Ons kla soms by God en by mekaar oor die dinge wat ander mense doen. Oor goed wat nie met ons teorieë strook nie. Soms tereg, soms onregverdig. Maar sal ons ooit tot God kan deurdring met ons klagtes oor ander? God bespreek nie ander mense met ons nie. God praat net mét ons oor wat God van óns verwag. En wat God verwag, is ’n lewe wat nie eindig nie. ’n Lewe in God se koninkryk. ’n Teorie waarvan verganklikheid nie deel is nie. Dit het God immers reeds aan ons elkeen gegee.

Dis hoe Jesus soos God kyk. Die lewe is ’n soektog na God se koninkryk. Dis al wat daar is om te vind. Want dis al wat na die dood voortbestaan. As die lewe ’n stryd is, soek die koninkryk en vind vrede. As die lewe ’n fees is, soek die koninkryk, nooi almal en laat hulle welkom voel. As die lewe onregverdig is, soek die koninkryk en bewerk geregtigheid.

Die soort lewe wat vrede prysgee oor iets soos ’n erfporsie, eindig noodwendig. My besit van die erfporsie daarmee saam. ’n Lewe wat vrede bewerk en onderhou selfs ten koste van ’n erfporsie, duur tot in ewigheid. As jou broer nie die erfporsie met jou wil deel nie, bewerk die koninkryk sonder daardie erfporsie!

Dit is die ewige teorie. Die Goddelike beskouing oor wat die lewe is. ’n Soektog na die koninkryk van God. En dié wat soek, sal vind. Afgesien van omstandighede of ervaring. En vir dié wat soek en vind, begin daar nou reeds ’n lewe wat in die ewigheid voortgesit word.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link