Psalm 39: 5-6; Efesiers 5: 15-16
Die dood is die einde van ’n verganklike lewe, en dit is natuurlik onvermydelik. Die dood is die einde van aardse genot en ’n verlossing uit moontlike smart en lyding. Die dood stel nie belang in rang, klas, status of posisie nie. Die dood vra nie of jy gereed is nie, bekeerd of onbekeerd, misbaar of onmisbaar; dit kom soos ’n dief in die nag, oorval ons en dwing ons om na te dink oor ons lewens.
Ons kyk terug op ’n pad met óf sonder God, ’n lewe van selfopoffering óf selfsug, in diens van God óf in diens van die wêreld. Die lewe is maar kort, en daarom moet ons nie die dinge waarop dit werklik neerkom, die dinge wat belangrik is, verwaarloos nie. As ons maar net geweet het hoeveel dae ons oorgehad het om te leef, sou dit dalk anders wees. Kon jy dalk ander besluite geneem het, anders opgetree het, meer daarop gefokus het om gesonde verhoudings te bou.
Waarvoor leef ek en jy? Wat is jou doel hier op aarde? Ons lewe in ’n selfsugtige wêreld. Baie se doel is om hulself te verryk en roekeloos om te gaan met die geleende tyd. Efesiërs 5: 15-16 sê: Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid… Daarmee bedoel Paulus dat ons indringend na ons lewens moet kyk, omdat die invloed van die sonde geweldig groot is. Daarom moet ons hoë standaarde stel, verstandig optree en elke moontlike geleentheid benut om goed te doen. Jou geloof moet uit jou werke sigbaar word.
Die dood is dalk nader as wat ons dink. Laat ons lewe soos verstandige mense en nie soos onverstandige mense nie. Ons hou telkens die nuus dop en besef al hoe meer hoe stukkend hierdie wêreld is. Ons weet dat daar soveel mense is wat die Here nie ken nie. Ons kan gewoon net bid dat die Here verandering in hul lewens sal bring en ons as gelowiges sal bly begelei op sy pad.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand
