Maleagi 4: 4-6

Na die ballingskap verwag Israel ’n bloeityd van groot voorspoed, maar dit realiseer nie. Moeilike omstandighede, droogtes en misoeste het geloofstwyfel meegebring. Morele verval en godsdienstige louheid was die gevolg.

Maleagi vermaan en waarsku teen ongehoorsaamheid en ontrou teenoor die Here. Die Here wil weet: …waar is die eer wat My toekom? (1: 6). Die priesters wonder kwansuis: Hoe het ons U met minagting behandel? Maleagi wys daarop dat hulle minderwaardige diere bring as offers vir die Here. Maleagi daag hulle uit: Sal jou goewerneur ingenome hiermee wees? (1: 8). Maleagi wys verder waar hulle onregmatig opgetree het. Julle sê wel: Ons het tog almal een Vader (2: 10), nogtans trou julle met vrouens wat ander gode dien (2: 11).

Die Here bevestig opnuut dat Hý nie verander het nie. Sy getrouheid is juis die rede waarom die volk nie vernietig is nie (3: 6). Terwyl hulle dink dat hulle goed doen, vra hulle: Waarom moet ons ons bekeer? (3: 7). Maleagi wys daarop dat hulle in werklikheid die Here beroof as hulle ’n deel van hul tiendes terughou (3: 8).

Maleagi bemoedig verder die volk. Hy verseker hulle dat die Here ’n boodskapper gaan stuur wat die pad sal regmaak (3: 1). Die Here belowe dat Hy, voordat daardie groot en verskriklike dag van die Here kom, die profeet Elia sal stuur as boodskapper (4: 5). Elia was bekend as ’n vreeslose profeet. Die Karmelgebeure het bly voortleef in die herinneringe van die volk (1 Kon 18). Elia word hier die eerste voorloper wat moet waarsku, maar ook moet verseker: …die dag van die Here is naby. Elia sal ook help met die versoening tussen vaders en kinders. Johannes die Doper word later die tweede voorloper (Luk 1: 17). Die verwagting dat Elia sou kom, het lewendig gebly. Die verskyning van Elia en Moses saam met Jesus tydens sy verheerliking (Matt 17: 3) sluit aan by hierdie belofte waarmee Maleagi sy boek en daarmee die hele Ou Testament afsluit.

Saam verwag ons en sien ons uit na die groot dag van die Here, sy koms na die wêreld!

Dr Frans Boshoff, Emeritus/Chrissiesmeer

af
af
Deel met behulp van
Copy link