Matteus 22: 15-45

Die Sadduseërs kom spot oor opstanding uit die dood. Hulle glo mos net in die Tora (die wet), en dáár staan van opstanding net mooi niks. Duskant die dood, reël die Tora alles oor vroue. Die wet sê as ’n man ’n vrou vat, maar hy sterf sonder nasaat, moet die vrou met sy broer trou. Húl twee se kinders is dan eintlik haar éérste man s’n vir doeleindes van grondeise, erflatings en hul plek in die familie, gemeenskap en volkslewe. 

Sê nou, vra die Sadduseërs vir Jesus, ’n vrou trou met sewe broers en hulle sterf almal kinderloos. (Kinderloosheid is in die Ou Testament altyd die vrou se skuld, om voor die hand liggende redes. Vroue se waarde setel in vrugbare baarmoeders wat hulle tot hul mans se beskikking stel.) Al het hierdie vrou haar tot op die letter van die wet by die Tora gehou, is sy ’n grillerige verleentheid; en dis alles aan die opstanding te wyte. Sê ons ’n bietjie, Jesus, in jou opstandingsbedeling, wie gaan met haar opgeskeep sit?

Elkeen wat sy wil doen, is Jesus se ma, sy broers en susters. Hierdie vrou het, en hier behoort sy nou aan God, nie aan haar mans nie, en ook nie net haar baarmoeder nie, maar die hele vrou. 

Die Tora sê tog: Ek is die God van Abraham, Isak en Jakob… Maar die formulering verwar, nes die formulering dat die Christus die seun van Dawid is.  Die Christus behoort nie aan Dawid nie. Die Christus is Dawid se Here. Net so: God is Abraham, Isak en Jakob se God. Húlle is God s’n. Wie se vrou is sy nou? Ook God s’n. Alsewe is nog haar mans, maar sy is nie vir hulle daar nie. Sy is God s’n. Haar lewe ná die opstanding is lewe in God se belang en tot God se eer, en nie om vir ewig deur kinderloosheid verneder te word nie. Sy is daar om God te geniet. 

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

 

af
af
Copy link