Psalm 1: 3

Vandag is Dankdag vir die Oes / Biddag vir die Gesaaides, en dié dag het ook ’n bid- en dankdag vir ons arbeid geword. Daarom kan ons gerus let op die vrugte wat ons dra, en vandag vir mekaar vra: Dra ons op die regte tyd vrugte? Dra ons steeds vrugte terwyl die einde van die jaar naderkruip? In Psalm 1 word die bron van vrugte dra uitgewys as die woord van God. Die vrugte wat ons dra, kom nie van ons af nie – dit is God self wat dit in ons bewerk. ’n Ander belangrike aspek van dié gedeelte is dat die vrugte wat ons dra nie vir onsself bedoel is nie. Dit is daar om ander mee te versterk en hulle mee te dien. As ander dit nie kan sien nie, kan dit niks vir hulle beteken nie.

Hoe dra ek en jy, as God se bome, gevoed en versorg deur God, God se vrugte op die regte tyd? Ons is soms bang om die vrug van die geloof met ander te deel, of ons voel dat dit ’n private aangeleentheid is. Psalm 1 wys dit kan nie. Vanuit God se Woord, vanuit my ontmoeting met God, word ons versterk om vrugte te dra, om duidelik en in die openbaar gelowiges te wees.

In die besig wees met God in ons stiltetyd, of wanneer ons ’n erediens bywoon, word ons gevoed langs die waterstroom. As ons werklik by die Here uitkom, is dit nie moontlik om nié vrug te dra nie. Maar dié vrug moet gesien kan word. Die wyse waarop ons sout is vir die aarde, maak God se stem duidelik. Op hierdie oomblik kan dit wys in hoe jy jou kinders met hul skoolwerk bystaan, in hoe jy, tuis of by jou werkplek, met jou kollegas omgaan te midde van chaos en spanning. Hoe jy uitreik na die eenkantmense en die verstotenes van ons samelewing.

Vra jouself hierdie week telkens af te midde van dit waarmee jy besig is, hoe jy in dié oomblik vrug kan dra.

Ds Lisa-Mari Prinsloo, Sasolburg-Suid

Share via
Copy link
Powered by Social Snap