Psalm 65

In ou Israel was landbou bestaansboerdery. Landboumetodes was maar primitief en sommige streke was baie droog, sodat dit ’n sukkelbestaan was. Onsekerheid oor oeste en veeteelt het Israeliete genoop om hul afhanklikheid van God te erken. Hulle het geloftes aan God gemaak: beloftes van diens en offers indien daar goeie opbrengste was. Opregte skuldbelydenisse en sondeoffers sou God se vergifnis bepleit en sodoende die verhouding met God herstel. So is straf voorkom en rampe afgeweer. Daarby was daar voorgeskrewe oesfeeste waarvoor pelgrims na die heiligdom in Jerusalem moes gaan. Die fees van die ongesuurde brode was ’n sewe dag lange fees aan die begin van die garsoes direk na die pasga. Dan vier Israel die nuwe begin met die oestyd wat aanbreek. 50 dae later (sewe weke) volg die fees van die weke of van die eerstelinge. Dit was ’n een-dag-fees aan die einde van die koringoes. Dan is daar twee brode met suurdeeg geoffer. Dit is die enigste geval waar suurdeeg by offerandes voorgeskryf is. Met hierdie feeste aan die begin en einde van die oestyd vier pelgrims dankbaar God se sorg, soos voorgeskryf.

Vandag beskik ons oor moderne wetenskaplike landboumetodes. Ons kan weerpatrone vasstel en weerverskynsels voorspel. Dit bied aan boere omvangryke voordele, vergeleke met landbou in ou Israel. Tog erken gelowiges steeds dat ons vir die landbou se opbrengs van God afhanklik is. Danksy die evangelie, beskou ons nie meer natuurrampe as God se straf nie. Ons het ook soos Israel twee feesdae waartydens ons God se sorg vier: die biddag vir die gesaaides en die dankdag vir die oes. Wanneer ons aansit om te eet, vra ons God se seën oor die voedsel, en ons dank God vir die voorreg om kos op die tafel te hê. Daarmee bely ons dat die geleentheid en gesondheid om te kan of te kon werk en kos te kan koop, genade uit God se hand is. In ons daaglikse gebede erken ons God se sorg en dank ons Hom daarvoor. Vier jy ook só dankbaar God se sorg?

Gesang 462: 1-3

Dr Gert Malan, Mosselbaai

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link