1 Petrus 1: 3-9

In die teksgedeelte begin Petrus met ’n doksologie of lofprysing. ’n Lofprysing ondanks moeilike omstandighede vir sy lesers. Vir hom is die hoop te vind in die toekoms wat reeds aangebreek het in die hier en nou. Jesus het gesterf, en daarom leef daar in ons ’n lewende hoop vir ’n lewe na die dood, maar ook ’n lewe in God se nabyheid hier op aarde! Hierin is vreugde. Die teoloog Moltmann noem dat hierdie hoop vir hom te sien is in die manier waarop gelowiges hul lewens vandag sien. Hy sê dat ’n gelowige se teenswoordige tyd (ons nou) nie meer bepaal word deur ons verlede nie, maar gedefinieer word deur ons toekoms.

Hierin lê daar vir ons hoop, lewende hoop. Nancy Guthrie skryf iets oor vertroue nadat sy twee kinders afgestaan het aan ’n seldsame siekte – die eerste na ses maande. Daarna het hulle ’n tweede kind gehad, en hy is gediagnoseer met dieselfde rare siekte. Hy het ook na ’n paar maande gesterf. Platgeslaan deur die omstandighede, moes hulle weer anker vind in hul geloof. Sy sê egte geloof bly staan, selfs al kom die wonderwerk nie.

Dit is nie altyd maklik nie, maar dit is wat Petrus hier voorstel: ’n geloof wat reeds geskud is en nie maklik weer geskud word nie. So ’n geloof word gebore uit ’n lewendige hoop wat ons ’n nuwe visie gee om verby vandag se seer en pyn te kyk en die toekoms saam met God tegemoet te loop. Ons hou vas en ons bly bid. As gelowiges sal daar vir ons vreugde wees, ondanks die seer. Soos Petrus, kan ons ’n doksologie skryf ondanks beproewings en uitdagings in hierdie lewe.

Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings… (vers 5).

Dr Hein Delport, Swartkop

Share via
Copy link
Powered by Social Snap