1 Petrus 1: 13-25
Ek onthou dat ek as kind op ’n dag ander kinders ontmoet het buite ’n huis waar ons gaan kuier het. Ons is in die huis in om die huismense te groet. Een van hulle was ’n kwaai ou oom. Hy het my nie bang gemaak nie, want ek het veilig gevoel met my pa net daar. Buite was die kinders verstom dat ons kinders in die huis ingegaan het. Hulle was te bang vir hul oupa om in die huis in te gaan.
Later in my lewe het ek besef hoe jou ervaring van pa-figure ’n mens se persepsie van God die Vader vorm. ’n Mens dra onbewustelik daardie ervaring oor: ’n warm verhouding na ’n warm ervaring van God; ’n verhouding van vrees dra oor na ’n gevoel van afstand en vrees vir God. Indien die vaderbeeld ’n struikelblok in ’n mens se verhouding met God veroorsaak, is daar soveel ander beelde in die Bybel waarmee jy jou kan vereenselwig en wat jou verhouding met God kan versterk.
Ons moet ook besef dat ’n ervaring van ’n aardse pa-figuur ver te kort skiet by wat die Bybel bedoel God ons Vader is. Ons het ’n nuwe identiteit – ons is deel van God se familie. In 1 Petrus is ons positiewe identiteit dat ons kinders is van God ons Vader, in Jesus Christus. Die prominente tema van die brief is kindskap: die tuiste wat gelowiges vind in die familie waarvan God ons Vader is!
Ons leef as God se kinders vandag en elke dag. Dit beteken dat jou lewe soveel hoop het. Hoop omdat jy God ken en weet wat Hy al in die verlede vir jou gedoen het. Hoop omdat jy op God se familiefoto verskyn en altyd daarop sal wees. Eerbied en ontsag vir God beteken dat ons prakties leef soos God wil hê ons moet leef. Liefde is die praktiese uitlewing van hierdie eerbied. As daar meer is wat God as Vader aanroep, beteken dit dat ons broers en susters het. En ons liefde vir ons medemens moet selfloos in diens van ons Vader wees.
Ds Heloïse Herbst, Rietvallei
