Johannes 10: 11-13

Christus het vir ons kom wys hoe die goeie herder optree. Onlangs het ons Paasfees gevier, en juis daaraan gedink dat Hy sy lewe vir ons, sy skape, opgeoffer het. Ongetwyfeld is Hy die goeie Herder. In hierdie gedeelte wil Hy wys hoe ’n goeie herder lyk, deur hom met ’n huurling te vergelyk. ’n Huurling is iemand wat aangestel is om die skape in die herder se plek op te pas, wanneer die herder nie daar is nie. Die verskil in optrede tussen die herder en die huurling is opvallend.

Daar word nie veel van die arme huurling verwag nie. So wil Christus ons voorberei vir wanneer Hy nie meer daar gaan wees om sy volgelinge by te staan nie. Hierdie is nie net ’n voorstelling van hoe Christus anders is nie, maar is ook vir ons – wat soos Hy wil wees en sy voorbeeld wil volg – ’n waarskuwing oor hoe gevaarlik ’n leier wat nie vir sy of haar kudde omgee nie, kan wees. Christus wil sy kerk in die sorg van herders los, nie van huurlinge nie.  

Hoe onderskei ons dan tussen goeie en slegte herders of leiers? Ons doen dit deur te kyk hoe naby hulle aan Christus se voorbeeld is.

Ons is aangestel om leiers in geloof te wees – priesters, profete en konings – waar ons ook al kom. Christus daag ons uit om herders soos Hy te wees, wat bereid is om selfs sy of haar lewe te offer eerder as om weg te hardloop. Hoe gee jy om oor die mense wat opkyk na jou? Daar word nie noodwendig gevra dat ’n lewe letterlik geoffer moet word nie; soms is om bekommerd te wees oor iemand al wat nodig is. In jou gesin, vriendegroep of gemeenskap, waar het God jou geplaas om ’n herder te wees, en is jy bereid om jou lewe te gee, soos wat Christus sy lewe geoffer het? Al is dit net om om te gee wanneer niemand dit verwag nie.

Ds Dewald Kruger, beroepafwagtend

af
af
Deel met behulp van
Copy link