Matteus 13: 18-19

Die mees algemene interpretasie van hierdie gelykenis is dat die koninkryk van God klein begin, groei, en eendag, by die wederkoms, baie groot sal wees. ’n Klein saadjie word so groot soos ’n boom, groter as al die tuinplante. Moet dus nie die koninkryk van God minag nie. Dit lyk miskien niksseggend, maar hou dit dop.

Hierdie interpretasie van die gelykenis is te danke aan Markus en Matteus se weergawes van die gelykenis waarin die mosterdsaadjie “die kleinste van alle soorte saad” genoem word. Interessant is die feit dat die mosterdsaadjie nie die kleinste van alle soorte saad is nie. Die saadjie van ’n orgidee of ’n sipres was kleiner.

In Lukas se weergawe van die gelykenis word die mosterdsaadjie nie die kleinste van al die saad genoem nie. Lukas laat ook nie klem val op die groei van die mosterdsaadjie van klein na groot nie. In Lukas val die klem op iets anders, naamlik dat die mosterdsaadjie in ’n tuin geplant word. Deur dit te doen, het die man ’n belangrike Joodse voorskrif verontagsaam, waarvan ons in Levitikus 19: 19 en Deuteronomium 22: 9 lees: Jy mag nie verskillende soorte saad in een land, wingerd of tuin plant nie. Wanneer iemand dit doen, is die land, wingerd of tuin onrein. Boonop was die mosterdsaadjie ’n soort onkruid. Dit het vinnig en wild gegroei, en as dit eers wortelgeskiet het, het dit oorgeneem en was dit feitlik onmoontlik om dit uit te roei.

So, vertel Jesus, lyk die koninkryk. Dit is onrein, want die sogenaamde “onreines” (die melaatses, blindes, dié met gebreke) was by Hom welkom. Wat meer is, niemand sal dit kan stop nie. As dit eers begin het, groei dit wild voort.

Hoe lyk die koninkryk waar ons kerk, werk en lewe? Wie sluit ons in, en wie sluit ons uit? Hulle wat net soos ons is? En hulle wat na ons kyk, wat kyk hoe ons lewe waar ons besig is, wat sien hulle? Dat ons so lewe dat die koninkryk eenvoudig oorneem en nie gestop kan word nie? Wanneer ons so leef, het ons iets van hierdie gelykenis verstaan.

Prof Ernest van Eck. Emeritus/Kanada

Share via
Copy link
Powered by Social Snap