Hebreërs 2: 5-18

Daar gebeur soms dinge in ons lewens wat nie volgens ons eie planne en idees uitwerk nie. Dinge gebeur wat ons skok en laat twyfel. Ons het ’n breë raamwerk vir wat ons in ons lewens wil laat gebeur, en die oomblik as daar iets gebeur wat teen ons eie wil en plan is, begin ons in die realiteit van die lewe vaskyk, en ons voel die krisis diep in ons harte. Hartseer, ellende, seerkry en pyn is nie in ons raamwerk nie, ons wil nie regtig hierdie dinge in ons lewens hê nie. Maar die oomblik as hierdie dinge met ons gebeur, as ons die donker en die sleg van die lewe ervaar, is dit al waarop ons kan fokus en al waaraan ons kan dink. Dan is dit so asof ons in die venster vaskyk, en ons sien al die vuil en oliekolle op die glas raak, eerder as om die mooi berge en sonskyn agter die venster te sien.

Die skrywer van die teks skryf vir mense in dieselfde situasie as waarin ek en jy is: mense wat twyfel omdat hulle so gereeld die lelik van die lewe ervaar. Maar dan maak die skrywer ’n belangrike punt in vers 8 (AFR2020): U het alles onder sy voete gestel. Deur alles aan hom te onderwerp… Alles is onder ons gestel, geliefdes. Die sleg van die lewe is onder ons gestel, wat beteken dat ons nou in beheer is van daardie dinge. Die rede dat hierdie dinge onder ons gestel is, is omdat Jesus deur sy pad van lyding met eer en heerlikheid gekroon is (vers 9). En omdat Jesus met eer en heerlikheid gekroon is, gee Hy vir ons nuwe perspektief op die donkerte in ons lewens.

Jesus kom ervaar die seerkry en verlatenheid van die wêreld saam met ons, sodat ons nie meer in die vuil kolle van die lewe sal vaskyk nie, maar sodat ons eerder die heerlikheid en die eer van God agter die venster van die lewe – ja, wat soms vuil is – sal sien.

Ds André Steinmann, Piet Potgieter

Share via
Copy link
Powered by Social Snap