Filippense 1 (teksvers vers 20) (AFR2020)
Ons apostel Paulus was self in ’n tweestryd gewikkel, of hy hier bly of na die hiernamaals gaan. Hy, en ons, weet nog dit kan net beter wees by ons Heer. Paulus se tweestryd laat besef ons ook weer in ons eie lewens hoe belangrik die besluit is oor hoe ons ons dood as waardevol kan inrig.
Met my dood, sou dit met baie woede en bitterheid wees, sal ek my familie en vriende agterlaat met verwarring, skuldgevoelens, skaamte en dalk magteloosheid. Ek besef dat ’n mens se dood, my dood, ’n effek gaan hê op die mense om my. Mense wat ek agterlaat, kan ek nou al versorg, maar sou ek nie die geleentheid gebruik nie, sal my dood dalk glad nie ’n gesonde effek op hulle hê nie.
Ek pleit nie vir ’n Carpe Diem oproep tot lewe nie; inteendeel, eerder om allereers die koninkryk van God te ontdek elke dag saam met die mense om my. Paulus sal sê …deur my lewe of deur my dood (vers 20). Só kan ek die Heer verheerlik deur my lewe en só kan mense om my …vordering maak en geloofsvreugde ervaar (vers 25).
Dit vra van my om uit dankbaarheid en in afhanklikheid te leef. Dit vra van my om gretig te wees om te vergewe en vergifnis te ontvang. Dat ek die hoop en vertroue in elkeen om my sigbaar sal maak sodat hulle ’n lewe van vreugde en vrede kan voortsit ná my dood. Dat my dood, maar meer, my lewe, hulle sal noop tot ’n vol lewe in Christus. Só ’n besluit is nou in my hande; soos Paulus, kan ek – en jy ook – vandag kies om só te leef.
In die uur van my dood kan ek waarlik ’n lewensveranderende effek op mense hê. Ek besef op ’n baie diep vlak dat doodgaan die belangrikste lewensbesluit is, as ek elke dag Christus as Opstanding en Lewe kies. Dit behels ’n keuse om ander óf met skuldgevoelens te bind, óf hulle met dankbaarheid vry te maak.
Dr Pierre Jacobs, Gaborone