Hebreërs 11: 1-4

Hierdie brief leer ons dat geloof ʼn ander perspektief op die werklikheid oopmaak en dan word dit vir ons: Glo is sien. Jy kyk met ander oë en dit is nie afhanklik van die wetenskap nie. Om te illustreer watter verskil dit in mense se lewe gemaak het en kan maak, gebruik hy voorbeelde “van die ou tyd”.

Die eerste voorbeeld is Abel. Op grond van sy geloof het  hy ʼn offer gebring wat vir die Here aanneemlik was. Alhoewel die Skrif dit ʼn beter offer as die offer van Kain noem, sou ons dit nie uit die gegewens van Genesis kon aflei nie. Hulle bring albei ʼn offer vanuit hul opbrengs. Kain was ’n saaiboer en Abel ʼn veeboer. Daar word nie aangedui dat die een se offer as sodanig beter as die ander een se offer was nie. Dit gaan dus ook hier duidelik oor ʼn saak wat onsigbaar vir die oog is, naamlik hul innerlike gesteldheid of die gesindheid waarmee die godsdienstige plig afgehandel word.

Die onderskeid word duidelik aangedui: Vanweë of op grond van sy geloof word Abel se offer vir God aanneemlik. Daar word letterlik in die oorspronklike taal gestel dat Abel vanweë sy geloof as ʼn regverdige persoon geprys is, of dan opreg, soos die 1983-vertaling sê. Die regverdiging was toe al nie op grond van sy werke nie, maar omdat hy in opregte geloof sy offer gebring het. God wat in die verborgene sien, het geweet dat Abel se geloofshouding sy optrede bepaal het. Die bring van die offer was die vrug van sy geloof, geloof wat tot dade oorgegaan het.

In ʼn sekere sin was Abel toe ook die eerste martelaar vir sy geloof, en hy word in Hebreërs 12: 24 weer genoem saam met Jesus, wat die “laaste” Martelaar was. Dit is ook belangrik dat die dood van Abel oor die tyd heen tot vandag toe sy getuieniskrag behou. Hy praat nog, al het hy gesterf. Deur die “sigbaarheid” van sy dood klink die ewige getuienis steeds voort en word die “onsigbare” van sy geloof die uiteindelike werklike waarde van sy lewe.

Prof Piet Geyser, Emeritus/Meyerspark

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link