Galasiërs 5: 13-26

Woede en ongesonde maniere van woede hanteer kan verhoudings vernietig. Dit is gevaarlik – fisies, geestelik, emosioneel en psigies. Woede is daardie skielike sterk gevoel van ongemak en antagonisme, gerig op die saak of persoon wat ons seer veroorsaak het.

Of dit geregverdig is of nie, die gevoel is altyd daar. ’n Gevoel wat maak dat ons iets daaraan wil doen. Daar is voordele aan woede. Die grootste is dat dit dien as waarskuwing dat iets in die binnekant nie reg is nie. En partykeer kan daar iets goed kom van woede. Onbeheerbare woede is egter baie gevaarlik.

Daar is verskillende vorme van kwaad wees. So kry ons uitbarstings – dit is ’n onbeheerbare vorm van woede. Dit is eksplosief. Daar is ook ’n ander vorm van woede, naamlik verwyte. ’n Verwyt is woede wat onderdruk is. Dit is net so gevaarlik, want dit vergiftig ons. Iemand sê onlangs: Ons drink die gif en verwag dan dat iemand anders siek moet word. Hoekom leef ons met ’n hele generasie van mense wat net op die woedetreintjie ry? Verwerping is die broeiplek van woede. Partykeer is iemand net kwaad vir hom- of haarself, en weet hulle nie hoe om daarvan ontslae te raak nie.

Woede is die wortel van baie onreg. Jy kan dit nie wegsteek nie. Dit gaan uitkom, en die meeste van die kere gaan die woede gerig word op mense wat dit glad nie verdien nie.

Wat is die effek van woede? Dit beïnvloed ’n mens se spysverteringstelsel, jou kardiovaskulêre sisteem en elke sisteem in jou liggaam. Dit is nie net ’n eenvoudige emosie nie. Wat gebeur as ’n mens nie woede hanteer nie? Passiewe aggressie volg, of die breek van verhoudings. Moenie belangrike besluite neem as jy kwaad is nie, want jy kan nie dan nugter dink nie. En moenie ’n oordeel uitspreek oor ander wanneer jy kwaad word nie. Heel waarskynlik neem jy dinge aan en projekteer jy net sekere dinge op ander mense.

Dr Hein Delport, Swartkop

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link