Lukas 2: 8-15

Engele speel ’n groot rol in die Bybel. Die bekendste is sekerlik die engel wat aan Maria verskyn met die nuus dat sy swanger sal word en ’n kind in die wêreld sal bring. Josef se reaksie op hierdie skoknuus is dat hy besluit om die verlowing te verbreek. Daardie aand is daar ook aan hom ’n verskyning van ’n engel. Na die besoek van die engel, het Josef van plan verander.

Lukas 2: 8-15 vertel van ’n engel wat aan die skaapwagters verskyn waar hulle in die veld skape oppas. Hulle het groot geskrik, want dit is dalk die doodsengel wat die einde van hul lewens kom aankondig. Maar dan die gerusstelling dat hulle nie bang hoef te wees nie. Dit is eintlik ’n wonderlike boodskap wat die engel kom oordra. Dit waarna die volk gesmag het, het gebeur en julle het die voorreg om dit eerste te hoor. Die Verlosser is gebore!

En dan die onbeskryflike gebeurtenis. Daar het nog engele aangesluit en God geloof en geprys vir die uitkoms wat aangebreek het. En soos ’n pyl uit ’n boog het hulle alles net so gelos en gehardloop en vir Maria en Josef en die Kindjie gevind.

Ag, hoe wonderlik sou dit nie wees nie as daar aan ons ook ’n engel verskyn? Ons sal die engel glo en die geleentheid wil aangryp, soos die herders, as daar tog net ’n engel dit vertel. Ag, kan daar nie ’n engel kom nie?

Maar die hartseerste is dat ons nie sal luister nie. God stuur sy betroubaarste Boodskapper. Hy stuur sy Seun, maar ons verroer nie ’n vinger nie. Christus se geboorte word ook vir ons aangekondig, maar ons wil nie gaan kyk nie – hierdie skape, die wêreldse, het belangriker geword as die hemelse.

God stuur meer as net ’n engel. Hy stuur sy Seun om te sê: Jy is kosbaar. Ek wil nie dat jy verlore gaan nie. Die Verlosser bring die boodskap van redding. Is ons soos die skaapwagters opgewonde daaroor?

Ds Lammert van Rooyen, Lichtenburg-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap