Johannes 3: 14-21

Ons as Christene weet dat die liefde teen ’n prys kom. God se liefde het te make met baie meer as wat die wêreld ooit sal verstaan. God se liefde begin reeds by Homself. God maak ’n wilsbesluit dat Hy mense wil liefhê. Dieselfde God wat planete maak en biljoene sterre sy lof kan laat besing, is die God wat mense tot die dood toe liefhet.

Johannes 3: 16 leer ons dat ons eie vermoëns waaraan ons so vasklou, nie die rede is waarom God ons liefhet nie. God het óns gemaak en God onderhou óns! God is altyd die Een wat eerste handel. Hy is die Een wat éérste liefhet. Sy liefde vir mense hou stand tot in alle ewigheid. God is liefde. Hy fokus sy liefde, nes ons ons bedoelings fokus op iets wat vir ons baie kosbaar is. God fokus hierdie liefde op die wêreld. Hy fokus sy liefde op ’n stukkende wêreld, ’n onvolmaakte plek vol gebroke mense waar dit lyk asof die dood klaar heers. Hier kom voer God se liefde ’n staatsgreep uit op die dood, en oorwin. Hy plaas lewe op die voorgrond, want Hy het Hom in hierdie stukkende wêreld kom vestig.

In hierdie Kerstyd word ons weer daaraan herinner dat God een doel voor oë het – om sy liefde aan ons bekend te maak. Om dit opnuut in mense se harte te kom vestig sodat mense mekaar kan liefhê. Om sy liefde vir sondaars te laat vrug dra. Om aan ons die ewige lewe te skenk.  God se liefde werk skeppend. Dit laat wonderlike, verrassende dinge gebeur. Sy Seun word in Betlehem gebore. God se liefde motiveer mense om self ander lief te hê en sodoende sy liefde uit te deel.

Daarvan verstaan die wêreld maar min. Ons moet hulle dit leer deur die wyse waarop ons leef en teenoor God en mekaar optree! Dit is ons Godgegewe roeping. Die prys van God se liefde vir ons is die dood van die Baba oor wie die mensdom nou feesvier. Vier daagliks God se liefde deur dit te leef. Só sal Kersfees die hele jaar aanhou.

Gesang 329

Ds Jacques Pieterse, Laer Suidkus

af
af
Deel met behulp van
Copy link