Efesiërs 1: 3-14; Matteus 2: 1-12 

Dit is die dag voor Kersdag. Die kos vir môre se feesvierings is reeds voorberei. Ons Kersbome is versier en onder die boom lê geskenke, gereed om môre uitgedeel en oopgemaak te word. Ons het hierdie week weer die hart van Kersfees herontdek. Die versierings aan ’n Kersboom het ons hiermee gehelp. Vandag fokus ons op dit wat onder die Kersboom lê: die geskenke.

Ons Skrifgedeelte (Ef 1: 3-14) herinner ons aan die grootste geskenk wat aan die wêreld gegee is – Jesus Christus ons Verlosser is gebore. Jesus het aan ons die kosbaarste geskenk denkbaar gegee – Hy het sy lewe vir ons gegee. Daarom vra Kersfees dat ons ons fokus verskuif van die geskenke onder die Kersboom na die geskenk in die krip.

Die wyse manne het vir die Jesuskind die geskenke van goud, wierook en mirre gebring (Matt 2: 1-12). Kosbare geskenke wat gewoonlik vir ’n koning gegee is. Sou ek en jy vandag aan ons Verlosser ’n geskenk moes gee, hoe lyk hierdie geskenk? Gee ons dankbaarheid? Diensbaarheid? Gewilligheid? Die geskenke wat ons bring, sal nooit genoeg wees om ons dank en eer aan ons Verlosser te betoon nie. Die Kind in die krip het sy lewe vir my en jou gegee.

Mag jy môre – Kersdag – elke oomblik ervaar as ’n geskenk, ’n gawe uit God se hand.   

Gesang 345

Ds Maritza Oosthuizen, Belfast/Waterval Boven

af
af
Copy link