Handelinge 17: 1-8

Handelinge 17: 1-8 handel oor Paulus se verblyf en prediking in die stad Tessalonika. Handelinge vertel hier dat Paulus vir drie weke in Tessalonika tuisgegaan het, en elke sabbatdag in die sinagoge gaan preek het. Belangrik vir ons is wat Paulus gepreek het. Uit die gedeelte kan ons aflei dat hy ten minste drie sake aangeraak het: Jesus het gely en het opgestaan, daarom is Hy die Christus en Koning.

Vir ons lyk Paulus se verkondiging nie merkwaardig nie. Ons hoor immers feitlik elke week van die kansels van die kerk af dat Jesus die Christus en Koning is. Vir ons is hierdie boodskap bekend, selfs onskuldig. Uit hierdie vertelling lyk dit egter nie of Paulus se boodskap, toe hy dit verkondig het, so onskuldig was nie. Hoekom nie? As Jesus die Christus was, die gesalfde en uitverkorene van God, die verteenwoordiger van God op aarde, dan was die keiser dit nie. En as Jesus Koning was, beteken dit dat die keiser dit nie was nie. Dit is hoekom ons in Handelinge 17: 6-7 lees dat die boodskap van Paulus en sy volgelinge die hele wêreld in beroering bring en in stryd met die keiser se wette is.

Hoekom was die mense wat in opstand gekom het in beroering oor Paulus en sy volgelinge se boodskap? Omdat die boodskap dat Jesus die Christus en Koning is, die maghebbers van daardie tyd lynreg vertel het dat die mag nie aan hulle behoort nie, maar aan Jesus Christus. Meer nog: Jesus se mag was geleë in sy lyding en opstanding, terwyl die maghebbers van daardie tyd se mag geleë was in geweld en die uitbuiting van ander.

Eendag, lank gelede, het die evangelieboodskap dus dié met mag oor ander tot verantwoording geroep. Is dit vandag nog so? Daag ons met die evangelie diegene uit wat ander uitbuit en verwaarloos? Hulle wat die mag het? Handel die evangelie net uit verlossing uit die dood, of is dit ook ’n oproep tot die verlossing van ander uit armoede en ellende?

Prof Ernest van Eck, Universiteit van Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link