Lukas 5: 1-11

In hierdie gedeelte lees ons van die wonderbaarlike gevolge van Jesus se opdragte wat deur moeë mense uitgevoer is. Wat die Here vir Simon sê, maak nie in daardie oomblik sin nie. Simon is ’n visserman van beroep. Hy ken sy skuit. Hy ken die meer. Maar hy ken nog nie die Here Jesus Christus nie.

Hulle het die hele nag probeer om vis te vang, maar die hele nag se moeite en inspanning het tot niks gelei. Nou sê Jesus hulle moet nog een keer probeer. Simon antwoord dan eers en hy verduidelik. Simon was bereid om spasie en geleentheid te gee aan Jesus om vanuit sy skuit die mense te leer, maar wanneer Jesus vir hom sê om verder te werk nadat hy die hele nag lank vergeefs gewerk het, begin hy teëpraat.

Maar hy glo en hy gehoorsaam, en die Here Jesus Christus laat die wonderwerk gebeur. Die nette is vol. Die nette is so vol dat die nette wil skeur. Die nette is so vol dat die ander skuit nader geroep moet word. Die nette is so vol dat albei skuite dreig om te sink onder die gewig van die massa visse wat gevang is.

Soms voel ons ook asof ons die hele nag probeer het en niks gevang het nie. Soms voel ons ook dat ons inspanning, ons moeite, ons werk tot niks gekom het. Al my harde werk en inspanning was verniet. Niemand het dit raakgesien nie; dit het my nêrens gebring. Maar die Here sê probeer nog ’n keer. Gooi nog ’n keer die nette uit. Soms moet ons ook ophou verduidelik hoekom dit vir ons moeilik is om nog ’n keer te probeer en soms moet ons net oë toeknyp, die Here vertrou en die nette uitgooi.

Gebed

Here, help my om U te vertrou, selfs al voel dit asof ek niks meer in my oor het nie. Help my om u woord te gehoorsaam en in U te glo, en in geloof en vertroue te leef. Amen.

Ds Michael A Müller, Klerksdorp-Wilkoppies

Share via
Copy link
Powered by Social Snap