Genesis 8: 13-22

Die lewe hang baie af van hoe jy daarna kyk. Die oeroue verhaal van Noag in die Bybel was al deur die eeue vir miljoene mense ’n bron van inspirasie. Ook vir ons bied dit belangrike perspektiewe waarmee ons die dag kan ingaan.

God is ’n genadige God wat altyd weer voor begin met ons en ons nog ’n kans gee. God herstel telkens sy verhouding met ons. Ons dwaal af, maar God verwerp ons nie. God bring ons weer terug na Hom toe. Hierdie proses herhaal hom dikwels in ’n mens se lewe.

Die lewe is ’n gawe van God, en ons kan al die geleenthede wat dit bied, benut om God te verheerlik. God gee aan Noag die opdrag om uit die ark uit te gaan. Daar kom unieke geleenthede op ’n mens se pad. Ons moet ons veilige ruimtes verlaat. Die lewe moet geleef word.

Te midde van alles in die lewe, is God altyd daar. Dit word in die teks uitgedruk deur die ritme in die natuur. Daar is altyd twee kante aan die lewe: koue en hitte, dag en nag, somer en winter. Dit is alles dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar en veranderinge wat plaasvind sonder dat ons dit agterkom. Daar is dinge in die lewe waaroor ons geen beheer het nie. Verandering is deel van die lewe. Maar God is altyd teenwoordig. God bly in beheer.

Noag se eerste daad nadat God ’n nuwe begin met hom gemaak het, was om ’n altaar te bou en ’n offer aan God te bring. Wat bepaal jou uitkyk op die lewe? Dit kan maar net ’n gesindheid van dankbaarheid wees in alles wat ons doen vir God se genade en sorg.

Dr Gerhard Lindeque, Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link