Johannes 3: 22-36
Aan Johannes die Doper kan ’n mens nooit anders as met groot eerbied dink nie. Sy eenvoudige lewenswyse in die woestyn en sy profetiese prediking boei die skares, en menigtes het na Johannes toe gestroom om deur hom gedoop te word. Johannes se lig het helder gebrand, maar toe Christus uiteindelik op die toneel verskyn, verdwyn Johannes net so stilletjies die agtergrond in.
As mense, is ons geneig om ons in ons eie vermoëns te verlekker as ons enige vorm van bekendheid of bekwaamheid bereik. Om die eie ek, wat so belangrik vir ons is, te verheerlik. Maar die eie ek kan in ’n krisis gedompel word as daar iemand anders op die toneel verskyn wat meer bekend of meer bekwaam is.
Johannes kom voor so ’n krisis te staan, maar hy slaag daarin om die eie ek te bedwing. Hoe doen hy dit? Hy wys nie op sy eie vermoëns of prestasies nie. Hy wys ook nie eens op die feit dat hy Christus gedoop het nie. Nee, hy wys op die Een wat hulle albei bekwaam gemaak het om die evangelie te verkondig. Hy wys op die Gewer van alle gawes en talente. Hy wys op God, want niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie (vers 27).
Dit is hoe ons die “ek” prysgee: deur te onthou dat alles wat ons het en is, ’n gawe van God is wat ons in dankbaarheid en uit genade ontvang. Wanneer ons dit onthou en daar iemand te voorskyn kom wat groter talent en gawes as ek het, dan kan ons met niks anders as blydskap reageer nie, want dit is net nog ’n kans om God se grootheid te wys. Dit is net nog ’n manier om van God se heerlikheid te getuig. Dit is die saak waaroor alles eintlik gaan.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico
