1 Korintiërs 6: 15-20

Dit is interessant hoe baie mense in ons daaglikse lewe ons daaraan herinner dat ons die “tempel van God” is – ’n sentiment wat ’n mens kan waardeer. Hierdie opmerking word egter dikwels gebruik om ons te herinner dat ons liggame belangrik is en dat ons nie onverantwoordelik daarmee moet omgaan nie. Baie keer sal mense wat tatoeëermerke het, die eerstes wees om so ’n stelling te hoor, met die byvoeging: Jy sal mos nie op die mure van God se tempel wil krap nie.

Alhoewel die meeste mense goed bedoel wanneer hulle hierdie soort uitsprake maak, hou die beeld wat Paulus gebruik veel meer in wanneer hy sê: besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? (vers 19). Paulus wil ons leer dat ons die plek is waar die Heilige Gees wandel. Jou liggaam word ’n plek van aanbidding. Die liggaam behoort nie meer aan onsself nie, maar is die eiendom van God. ’n Woonplek vir die Heilige Gees. Hierdie is ’n merkwaardige gedagte wat veel verder strek as maar net blote krapmerke op die mure van ’n tempel. Dit beteken dat ons nie meer net na ons binneste geestelike omsien wanneer ons dink aan geloof nie, maar dat die liggaamlike ook deel word van ons geestelike lewe.

Meer nog, die tempel van die Here was in die Ou Testament ’n plek waar mense hul offers gebring het om God te eer en gereinig te word. Dit is die plek waar die hoëpriester tot die Allerheiligste God genader het. Ons word dus die plek waar God geëer word en waar ons tot God kan nader.

Die Heilige Gees is nie vasgevang in ’n gebou of plek nie. Paulus sê: Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang… (vers 19). Die Heilige Gees woon in ons en is dus by ons. Daarom moet ons met ons liggaam God verheerlik. Dit gaan dus oor ’n bewustelike leefstyl, om bewus te wees van wat in ons is.

Ds Juan de Beer, Parys

Share via
Copy link
Powered by Social Snap