Psalm 126

Waarom sal iemand wat ’n saaisak dra en saai, loop en huil terwyl hy dit doen? Om te saai, is tog vreugdevol. Dit is tog ’n saak van hoop, met die gewone verwagting dat daar ’n goeie oes gaan inkom.

Ook die saaier in Psalm 126 sou eerder met blydskap gesaai het. Ons lees in verse 2 en 3: Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.” Die Here hét groot dinge aan ons gedoen; ons was bly. God het, na jare se ballingskap, sy volk bevry, en daarom kan hulle nou terugkeer na hul stad Jerusalem en kan hulle weer die land opbou. Waarom dan nou loop en saai met trane?

Psalm 126 kyk na die verlede, hede en toekoms:

Die digter kyk in verse 1 tot 3 terug na die tyd toe die Here hulle uit ballingskap gered en Jerusalem se lot verander het. Daaroor was die hele volk baie bly.

As hy in die hede na hul omstandighede kyk, is hy bekommerd: Verander tog ook nou ons lot, Here, vra hy in vers 4. Terug uit ballingskap moet hulle alles van vooraf opbou.

Tog is hy ook hoopvol oor die toekoms. In verse 5 en 6 praat hy oor die toekoms, die oes. Die oes sal met gejuig ingebring word. Hy sal met gejuig die gerwe aandra. Eers blydskap, toe teleurstelling oor die toestand van die land, maar terselfdertyd hoop oor hoe dit eendag kan lyk.

Hierdie digter sê, al saai hy nóú in hierdie moeilike tyd, al loop hy en huil terwyl hy die saad saai omdat hy nie weet of die saad tog wel sal opkom nie, sal hy tog uitgaan en saai.

Om ’n Christen te wees in 2022, beteken om ’n brose pelgrim te wees op pad na die ewige Jerusalem, en om pelgrimsliedere soos Psalm 126 te sing, al het ons ook nie antwoorde op al ons vrae nie. Want ons weet dat ons trane in gejuig sal verander deur die Here se genade.

Ds Kobus Celliers, Brits

af
af
Deel met behulp van
Copy link