Handelinge 28: 30-31
Die Bybel is eers in die vierde eeu na Christus gefinaliseer. Die meeste gelowiges in die vroeë kerk het hul Christenskap sonder ’n Bybel reggekry. Die Christene uit die Jodedom sou dalk die Ou Testamentiese geskrifte geken het, maar die gelowiges uit die heidendom sou nie. Hulle sou uitsonderlik die Nuwe Testamentiese briewe kon lees. Die meeste van hulle moes maar staatmaak op die woorde en leefwyse van medegelowiges. Hulle het gekyk na wat die ander doen en dit self ook gedoen.
Op Pinksterdag is die Gees oor die mense uitgestort. Die Gees is Jesus se aardse teenwoordigheid, tydens Jesus se aardse afwesigheid (onbekend). Die Gees kom vul die gaping wat gelaat is na Jesus se hemelvaart. En met die koms van die Gees het iets verander, iets is in ons aan die brand gesteek, ’n lig – die Lig, met ’n hoofletter L, wat deur niks uitgedoof kan word nie, nie eens deur die dood nie. Dis die Gees wat die eerste gelowiges in staat gestel het om hierdie Lig in die wêreld te leef, dis die Gees wat óns ook inspireer en lei om beter en brawer te wees. Ons is dus nie alleen as ons die lig in ’n donker wêreld probeer wees nie.
Ons teks sluit af met hierdie een Griekse woord: akolutoos – “sonder verhindering”. Alhoewel Paulus ingeperk en fisies verhinder was, in donkerte vasgevang was, het die evangelie se lig deur hom steeds onverhinderd geskyn en wyer uitgekring, tot waar ons vandag hier sit. Selfs huisarres, selfs beperkings, kan die evangelie van Jesus nie beperk nie. Dis die werk van die Gees, dit was in Paulus en dit is in my en in jou.
Selfs ook wanneer ons ingeperk en vasgevang is en onsself in onsekerheid bevind, kan ons, móét ons daar waar ons is, die Lig van Christus met vrymoedigheid laat skyn. Die Gees van God brand soos ’n vuur in ons. Ons is die lig vir die wêreld – die Lig skyn in die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie!
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos
