Deuteronomium 26: 1-11 (en 6: 21-23)

Die verhaal van die uittog uit Egipte is vir Israel sekerlik die belangrikste verhaal wat van geslag tot geslag oorvertel word. Daar is nie duidelikheid oor die presiese historiese feite van hoe dit alles gebeur het nie – die tien plae, die pasgamaaltyd en die gebeure die nag van die uittog, die deurtog deur die see, die jare van ontberinge gedurende die moeisame reis deur die woestyn… Die betekenis van hierdie verhale van Israel lê nie soseer in historiese juistheid nie, maar in die betekenis van die gebeure vir Israel in hul menswees en hul verhouding met God.

Die gebeure, soos oorvertel, ontbloot die politieke onderdrukking en ekonomiese uitbuiting wat hulle as slawe van die farao ervaar, terwyl die vertelling dit binne ’n godsdienstige konteks plaas. Hierdie primêre verhaal  van Israel is eintlik die verhaal van die begin van die geboorte van Israel as volk, ’n volk wat leef in die stryd tussen die heerskappy van die farao en die heerskappy van God. So is dit tot vandag die verhaal van die stryd tussen die mag van verslawende menslike instellings in die samelewing en die vrymakende wil van God, tussen  die wêreldse koninkryk en die koninkryk van God. Soos ons later sal sien, is dit presies die stryd wat Jesus gevoer het toe Hy die koninkryk van God verkondig en geleef het.

Die verhaal van die uittog is dus die verhaal van verlossing uit slawerny in die wydste vorm daarvan. Die genadige en liefdevolle God verbind Hom juis gedurende hierdie reis met hulle by Sinai deur die verbond opnuut te bevestig – hulle is God se eiendom, ’n nasie afgesonder vir God (Eks 19: 3-7).

Hierdie verhaal is nie net ’n verhaal met betrekking tot die lewe van ou Israel nie. Dit is ook ons verhaal van bevryding van verslawing, wat dit ook al mag wees. Dit is nie net ’n verhaal van die verlede nie, maar ’n verhaal van nou, van ons verslawende lewensomstandighede en God se bevrydende genade deur Jesus ons Here.

Ds Japie Coetzee, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link