Eksodus 35: 30-35; Jesaja 51: 15-16
Wat weet ons van Besaleël? Ons lees van hom in Eksodus 31 en 35-39. Na die verlossing uit Egipte, diep in die dorre woestyn, laat Moses die tabernakel oprig om die volk te herinner aan God se teenwoordigheid in hul midde. God wys vir Besaleël aan as projekbestuurder en rus hom toe met die nodige vaardighede, insig en verstand. Hy ontwikkel tot ’n ware vakman en leier – uiters bekwaam met goud, silwer en brons, die verwerking en montering van edelstene, en baie meer.
Na die voltooiing van die tabernakel bedank Moses hom en sy span vir die meesterwerk. En dan verdwyn Besaleël min of meer van die toneel af. Hy het nooit enige roem of eer verwag nie. Hy was tevrede dat hy sy gawes tot God se beskikking gestel het – sodat elkeen die teenwoordigheid van die Almagtige kon ervaar. Die naam Besaleël beteken: In die skaduwee van God. Getrou aan sy naam, het hy geweet dat arbeid en dienswerk tot eer van God ’n beloning op sy eie is.
Wanneer die twyfel, kommer, vrees en angs dreig om die oorhand te kry – soek toevlug in die skaduwee van die Almagtige.
Wanneer die uitdagings op die lewenspad erg raak en alles rondom jou dreig om in duie te stort – vind skuiling in die skaduwee van die Almagtige.
Wanneer dit voel of die troos en sin minder en minder raak en die hartseer en verlange meer en meer – skuil in die skaduwee van die Almagtige.
As jy verwerp en verstote voel en dit voel of almal jou in die steek gelaat het en jy twyfel of jou welstand iemand anders nog traak – bly skuil in die skaduwee van die Almagtige. As jou kragte min raak en jy smag na die teenwoordigheid van Een wat regtig omgee – vertoef nog ’n bietjie langer in die skaduwee van die Almagtige.
O ja, ons lees wel weer van Besaleël – as afstammeling van Juda is hy deel van die geslagsregister van koning Dawid, en dus ook van Jesus. En deur Jesus Christus val God se skaduwee vandag ook oor jou.
Dr Johan van Staden, Sionspoort
