2 Petrus 1: 3-15

Christene word opgeroep om in diens van God te leef; ons word geroep om dissipels van God te wees. Dissipelskap verg van ons om op só ’n wyse te leef dat God in ons lewens sigbaar raak – sodat ander mense kan ervaar dat God in ons harte leef. Kennis, deugde, geduld en wedersydse liefde vir mekaar is dinge wat ons binne ons geloof moet nastreef. Hierdie is die elemente wat duidelik blyk in ’n gelowige se lewe.

Verder beteken dissipelskap ook dat ons kennis van God sal nastreef. Dit beteken dat ons konstant, in ons geloof, daarna sal streef om meer van God te leer. Om meer van God te leer, sal ons bemagtig om soos Christene te leef. Om meer van God te leer, sal ons help om in geduld en liefde teenoor ander te leef. Om tot kennis te kom, dui Petrus aan, het ons alles ontvang wat ons nodig het. Ons ontvang die Skrif waarin God geopenbaar word. Dié openbaring leer ons wie God is en wat van ons as gelowiges verwag word. Dit is inderdaad moontlik om meer van God te leer, want dit word in die Bybel bekend gemaak.

Die kennis wat ons oor God bekom, moet ons prakties in die wêreld bekend maak. Dit wat ons oor ons liefdevolle God leer, moet ons aan ander mense sigbaar maak. Dit is wat dissipelskap inhou: om kennis oor God te bekom en om daardie kennis om te sit in ’n praktiese uitleef van geloof. Ons word opgeroep om God te leer ken, want ons is sy kinders – ons staan in ’n verhouding met God, en daarom moet ons elke dag poog om kennis oor God te bekom. Ons moet dan ook volgens daardie kennis leef.

Die grootste kennis wat ons vanuit die Skrif ontvang, is dat God ons so liefhet dat Hy sy enigste Seun gegee het om vir ons sondes te sterf. Kennis is om te weet van God se liefde vir sy volk – dit wat God bereid is om te doen vir dié wat Hy liefhet.

Prop Hanri Reichel, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap