Johannes 12: 20-36

Ons sê dikwels: Ons leef in hierdie wêreld, maar ons moenie soos die wêreld word nie. In die Bybelse tyd het wêreld verwys na die lewe van heidene en ongelowiges. Miskien beteken dit in ons tyd nog dieselfde en selfs meer. Ons het gewoond geraak aan luukshede, ’n gemaklike lewe, winkelrakke vol kos en strate vol plesier. As ons oor die wêreld praat, dink ons aan ongelowiges, afvalliges. Maar ons dink ook aan talle verleidinge en al ons belangrike belange wat ons van Christus vervreem. Om in hierdie wêreld gelowig te bly, is nie altyd so maklik nie.

Jesus sê vir Andreas en Filippus: Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Hy praat oor sy dood. Die tyd was nou ryp vir sy lyding en opstanding. Hy moet eers sterf, anders kan daar nie vrug wees nie. Sy dood is tot redding van baie. Sy dissipels moet ook bereid wees om afstand te doen van húl ou lewe. Niks van die wêreld mag hul liefde vir Christus belemmer nie. Wie Christus van harte volg, sal deur die Vader geëer word.

Jesus het gekom om die wêreld te red. Wanneer Hy verhoog word, sal Hy almal wat in Hom glo na Hom toe trek. Hy sal die vyandige wêreld oorwin en die owerste van hierdie wêreld  uitdryf. Die Lam van God het die sonde van die wêreld op Hom geneem. Dié wat Hom verwerp, leef in die duisternis. So was dit met die Jode. Hulle het die wet gehad, maar van die redding wat Christus bring niks verstaan nie.

Dit kan so maklik met ons ook gebeur. Ons hoor die evangelie, maar leef nie in die lig nie. Om in die lig te leef, is om in Christus te glo. Die lig van Christus moet ons harte en gedagtes vernuwe. Duisternis maak jou oë blind. Die lig van die evangelie is jou kompas, jou gids, ’n helderskynende ster wat jou pad verlig en jou eindbestemming verseker. 

Ds Willem Kok, Potchefstroom

af
af
Deel met behulp van
Copy link