Jeremia 33: 3; Psalm 34: 5; Jesaja 41: 10
Vrees was vir God ’n belangrike onderwerp. In die Bybel word ons nie minder nie as 365 keer gewaarsku oor vrees. Angs en vreesagtigheid kan ons gesondheid ernstig affekteer indien dit in ons liggame gevestig word. Langdurige vrees en spanning verlaag ons immuunsisteem en verhoog ons kortisolvlakke. Wanneer ons immuunsisteem onder druk is omdat die die kortisolvlakke hoog is, is die liggaam vatbaar vir siektes. Wat sê die Woord vir ons oor vrees en angstigheid? In 2 Timoteus 1: 7 staan daar dat God wat ons gemaak het, ons nie met ’n gees van vrees gemaak het nie, maar dat dit deur ons eie toedoen is. God het ons die Heilige Gees gegee.
Daarom moet ons die Heilige Gees aanroep en toelaat om ons te rig en te lei in die regte rigting, en vir ons nuwe denkpatrone te skep. In Jeremia 33: 3 staan daar geskrywe: Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. Jou hulpkrete en versoeke val nie op dowe ore nie. God hoor, God sien en God sal vir my en jou uitkoms gee volgens sy wil. Vertrou God met jou lewe. Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou (Jes 41: 10).
Moenie toelaat dat vrees jou lewe verwoes en jou beroof van God se volmaakte plan met jou lewe nie. Dit waarvoor jy bang is, hanteer Iemand anders reeds. Glo in jouself en glo in God se Gees wie se krag onbeperk is en wat oor grense beweeg.
Gebed
Almagtige, alomteenwoordige Vader, ons vertrou U met ons lewe. Ons plaas onsself volkome in u hand en vra dat U met ons sal oor begin. Laat u Gees onbeperk in ons werk en alle vrees verwerp.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand
