1 Johannes 2: 1-6

Die gawe van die Gees wat ons vandag gaan oordink, is die gawe van kennis en sy gepaardgaande deug, selfbeheersing.

Die kennis waarna hier verwys word, is nie kennis van feite of formules nie. Dit is eerder die kennis om te onderskei tussen reg en verkeerd. Dit is morele kennis wat alleen spruit uit ons kennis van Christus (1 Joh  2: 3). Wanneer ons kennis van Christus groei, groei ons kennis van wat reg en verkeerd is.

Ongelukkig is die sonde in elkeen van ons. Die goeie wat ons wil doen, doen ons nie, maar die slegte wat ons nie wil doen nie, dit doen ons (Rom 7: 19). Daarom dat selfbeheersing so ’n belangrike deug is. Waarom, van al die vrugte van die Gees wat Paulus noem, is dit die laaste wat gelys word? Selfbeheersing is ons wat die rem aandraai. Wat net ’n bietjie hokaai om kans te gee vir die Gees om seker te maak dat ons met die kennis wat ons van Christus het, die regte morele oordeel kan vel.

Dit is die krisis spesifiek van ons tyd. Ons is baie maal oorhaastig en neem oorhaastige besluite. Ons samelewing dwing ons daartoe. Vinnige etes, vinnige kommunikasie, en bowenal vinnige rykdom, maak dat ons onmiddellike besluite moet neem. Baie maal sonder om die Gees kans te gee om te spreek, vir selfbeheersing om toe te tree sodat ons ’n korrekte oordeel kan vel.

Die Here Jesus het besef dat dit soms nodig is om rustig te word. Ons lees verskeie kere in die Evangelies dat Jesus Hom afgesonder het. Veral voor ’n groot besluit (Luk 6: 12-13) of gebeure (Luk 22: 39-44). Gun ons onsself die kans om rustig te word? Het ons die selfbeheersing om eers te wag voor ons besluite neem? Om kans te gee dat die Gees spreek en ons lei deur ons kennis van Christus. Of val ons in die ou laai van dit is nou of nooit?

Ds Willem Dreyer, Groot Marico

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap