1 Korintiërs 1: (17), 18-31
Ons het die afgelope tyd gesien hoe Jesus sy volgelinge voorberei het. Jesus se volgelinge kan nie anders nie as om van sy genade en liefde te getuig. Wat behels hierdie evangelie waarvan ons getuig? In 1 Korintiërs 1: 18-31 word duidelik vertel dat die evangelie, selfs in Paulus se tyd, vir die meeste mense onsinnig was.
Paulus gebruik ’n bekende skryftegniek van sy tyd, naamlik kontras, om almal wat hulself as wys beskou het, te wys dat hulle eintlik dwaas is. Hy verwys na die Grieke en die Jode. In daardie tyd het die Grieke deur filosofiese denke probeer om sin te maak van dinge. Die Jode het ’n letterlike verstaan van die Judese geskrifte voorgestaan.
Paulus se aanknopingspunt vind ons in vers 17. Hy sê dat hy oor die essensie van die evangelie wil praat, en dit is die kruisiging. Hy noem ook dat hy dit nie met allerhande wyse woorde of slimmigheid wil verkondig nie, want dit sal die kruisiging van sy krag ontneem. In vers 18 sê hy dan dat die kruisiging wel vir die wêreld na dwaasheid lyk. In die Griekse godedom en filosofie kon ’n god nie gekruisig word nie, want dit sou ’n swak god gewees het. Vir die Jode was die kruisiging ’n vloekstraf.
Paulus sê dat God juis gekies het dat die wêreld Hom nie deur geleerdheid moet leer ken nie (vers 21). Die mens se vermoëns moet juis nie dit wees waarvolgens die wêreld Hom moet leer ken of begryp nie. Nee, dit wat vir die wêreld onsinnig of dwaas is, is juis dit wat God gebruik. Christus is die krag en wysheid van God. Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense. Ons hoef nie slim of geleerd te wees nie. Eenvoudige mense maak Hy deur Christus sy kinders. Visserman of filosoof, ons kan almal deel kry aan God se redding as ons, ontneem van wyse woorde, op die Here roem.
Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria
