Johannes 17: 6-21

Die aand voor Jesus se kruisiging, terwyl Hy weet wat op Hom wag, neem Hy tyd om te bid vir dié wat Hy lief het. So waarvoor bid Jesus? Hy bid nie dat dit gaan maklik wees nie. Jesus weet dit gaan nie. Die wêreld word gedryf deur die idee van skaarsheid in plaas van oorvloed, vrees in plaas van moed, en selfsug in plaas van opofferende liefde. Dit is die rede hoekom hulle Hom en diegene wat Hom volg, gaan haat. Jesus bid nie dat dit maklik gaan wees nie, maar eerder dat God die dissipels sal ondersteun te midde van hul uitdagings en dat hulle met mekaar een sal wees. Dat hulle mekaar sal ken, ondersteun en liefhê, net soos Jesus en die Vader deur die Heilige Gees.

Wat merkwaardig is van hierdie gedeelte, is dat Jesus nie net bid vir die dissipels van destyds nie. In vers 20 lees ons ook: Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Wie is hierdie mense wat deur die woorde van die dissipels tot geloof gekom het? Van die tyd van daardie dissipels af het mense oor die eeue heen getuig van Jesus Christus, sodat selfs ons uiteindelik vandag, meer as twee duisend jaar later, kan glo.

Jesus bid vir ons! En waarvoor bid Hy? Vir dieselfde dinge as vir die dissipels – dat ons God se ondersteuning en bemoediging sal ervaar, dat ons een met mekaar en God sal wees. Elke keer wanneer ons hierdie gedeelte lees, word ons herinner aan Jesus se aanhoudende omgee, besorgdheid en deernis vir ons, en God se liefde vir die wêreld.

In jou stiltetyd kan jy nadink oor hoe dit gewone mense soos ons was wat die evangelie, ten spyte van vervolging en verset, oor die eeue heen versprei het. Jy kan die Christene wat vandag in vervolging leef, opdra in gebed. 

Ds Erika Ferreira, Bellville

af
af
Deel met behulp van
Copy link