Romeine 5: 12 – 6: 11

In 1969 skryf Harry Nilsson sy lied One, waarin hy sê dat een die eensaamste nommer is. Wanneer ons in die geloof van een praat, verstaan ons dit egter anders. Reg deur die Bybel is daar verhale van “een” persoon wat volgens menslike standaarde geen verskil sou maak nie. Moses word geroep deur God om Israel te verlos, en hy dink by homself omdat hy net een is, sal hy geen verskil kan maak nie (Eks 2-3). Dawid staan een alleen teen die reus Goliat en almal dink omdat hy een is, sal hy nooit oorwin nie (1 Sam 17: 31-58). Maar omdat Moses en Dawid een in die geloof was en God met hulle was, bereik hulle die onmoontlike.

So ook wanneer ons nadink oor die koms van Christus. Jesus was een mens gebore uit ’n vrou, onder die wet van sy tyd (Rom 1: 2; Gal 4: 4). Jesus het egter sy lewe toegewy aan God en nie geleef volgens die wette van die wêreld nie, maar volgens die wil van God, en daarom het Jesus as “een mens” die ganse verloop van die lewe verander.

Wanneer ons die verhaal van Jesus lees, lees ons ’n verhaal wat ons vertel van ’n menslike moontlikheid, van hoe ’n lewe toegewy aan God lyk. Dit vertel vir ons van hoe God se genade, liefde en sorg deur die gehoorsaamheid van een mens na die wêreld gekom het (Rom 5: 15). Terselfdertyd vertel dit ook vir ons hoe ons eie lewensverhale deel word van God se verhaal – of eerder, God deel word van ons verhaal. Deur die dood van Christus, vertel Paulus vir ons, is ons dood vir die sondige lewe. Ook deur die opstanding van Christus, leef ons nou in ’n nuwe lewe, ’n lewe van hoop, liefde en omgee vir hierdie wêreld (Rom 6: 4-11).

Een is miskien vir Nilsson ’n eensame nommer, maar in die geloof kan een die wêreld verander.

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap