Genesis 12: 1-20
Ewigheidsondag is die geleentheid in die jaar om stil te staan by die geliefdes wat ons verloor het, die geliefdes wat reeds die tydelike met die ewige verwissel het. In die Bybel lees ons van geloofshelde, die gelowiges wat voor ons hier was en wat met God in ’n verhouding gestaan het. In Genesis 12: 1-20 lees ons oor Abram se verhouding met God en sy getuienis oor sy verhouding met God. God se bemoeienis met Abram begin waar God vir Abram roep en drie beloftes aan Abram maak. Al wat Abram moet doen, is om op God te vertrou. Dit klink heel eenvoudig en maklik om na te kom, maar die beloftes lyk vir Abram hoogs onwaarskynlik om plaas te vind.
Hoewel Abram gestruikel het en soms verkeerde keuses gemaak het, en sy eie planne by tye in die pad van God se beloftes gestaan het, lees ons in die teksgedeelte tog van die karaktereienskappe van Abram se geloof. Abram was gehoorsaam aan God. Hy was baie familievas, geduldig, het konflik probeer vermy; hy staan terug vir ander en sien die groter prentjie raak. Ons weet dat elke daad en optrede gevolge inhou, en so het dit ook in die verhaal van Abram uitgespeel. Abram se keuses laat ons besef dat dit nie net in die oomblik gevolge gehad het nie, maar ook lank na sy dood leef sy geloofskeuses steeds voort. Abram het in verhouding met God geleef, en God se beloftes het waar geword. So word Abram ’n geloofsheld.
Ons kan ons verwonder en aanhou gesels oor die getuienis van Abram se verhouding met God. Daarom nooi ek jou uit om ’n kers aan te steek en te gesels oor jou geliefde – maar die belangrikste, die verhouding wat die persoon met Jesus Christus gehad het. Ons geliefdes het ons hier agtergelaat, maar ons het die voorreg gehad om hul verhouding met Jesus Christus te ervaar. Net soos met Abram, is ons geliefdes se lewe saam met God ook ’n getuienis vir ons.
Ds Natasha Smit, Nelspruit/Barberton