Johannes 3: 16

Wat ons nie als vir die liefde sal doen nie, nè?  Vet uitsuig en silikoon inplant, afsny en aanwerk, styftrek en glad maak en sommer baie geld spandeer. So nie, verduur en verdra, aanvaar en vergewe, opoffer, ly en maar saamleef. Na watter soort liefde is ons op soek? Maak dit nog saak? Ons kry van liefde so min, ons vat wat ons kan kry. In liefdeloosheid is enige liefde goed genoeg. Dog, ons hou nie op soek na dié liefde nie, al begin dit lyk of ons dit nooit gaan vind nie.

Hoe lyk dié liefde? Wel, van liefde word gesê dat jy dit op sy beste agterkom uit wie dit ontvang, want dit verraai alles van wie gewaag het om dit te gee. Ek is dié liefde nie werd nie.

By my is daar ’n vakature vir iemand wat liefhet, iemand wie se liefde hom laat tiek. Iemand vir wie dit lekker is om lief te hê bloot omdat hy van liefde hou. Ek’s op soek na iemand wat oor sy eie liefde so gelukkig voel dat hy nie op my vir liefde leun nie. Want ek kan nie so liefhê nie. Iemand wat sê Ek het jou lief voor ek hom nog gevra of probeer verplig het. Iemand wat kom sê: Hoor hier, man, ek het jou lief, jy kan dit netsowel geniet. Met so iemand, dink ek, sou die liefde kon werk en kon hou. Ek dink nogal ek sou wou hê dat so ’n liefde móés hou. Die enigste manier waarop liefde hou, is dat hy nie vir elke fout wat ek maak kwaad word, en vir al die sonde wat ek doen gril en vlug nie.

Waar kry ’n mens nog sulke liefde? By God, die Vader van ons Here Jesus Christus. Hy wat my met ’n engel laat weet het: Ek hou van jou! Ek het ’n welbehae in jou! Ek is lief vir jou, mens. Vir my het God só lief. Vir jou ook.  

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

af
af
Copy link