Jesaja 43: 16-21

Dit gaan tans slegter as wat dit eens gegaan het. Ons onthou uit ervaring of deur oorlewering beter dae. Die Judeërs wat in Babilonië as ballinge leef, onthou ook beter dae. Toe hulle ’n sterk volk in hul eie land met hul eie regeerders was.

Deur die profeet roep God die volk op om wel te onthou, maar nie die goeie ou dae nie. Onthou die verlossing by die Rietsee, en die begin van die langste tydperk van swaarkry in jul volk se geskiedenis wat daarop gevolg het. Voordat julle ’n land gehad het. Onthou die pad waarop God van julle ’n waardige volk gemaak het en julle geleer het hoe om in die nuwe land te leef.

Maar moenie net aan vroeëre dinge dink nie. Vergeet die dae waarin dit so goed gegaan het dat julle op jul eie mag begin staatmaak het in daardie land. Vergeet die dae van voorspoed ten koste van die weerlose mense onder julle. Vergeet die dae wat maak dat julle nie die Here se roeping in jul huidige konteks kan hoor nie, sê die Here vir sy mense wat swaarkry.

God se mense moet steeds sy koninkryk bou, maar hulle kan dit nie doen solank hulle hul eie koninkryke wil handhaaf nie. So Hy doen iets nuut. Wanneer God iets nuut doen, volg daar ’n tydperk van seer en swaarkry waarin sy mense opnuut bekend raak met die dinge wat hulle veronderstel is om onder sy sorg te konfronteer.

Dit gaan tans slegter as wat dit eens gegaan het. En dis baie goeie nuus vir gelowiges wat onthou onder watter omstandighede God sy mense leer om op ’n waardige wyse in sy koninkryk te woon. Diegene wat die voorspoed van aardse koninkryke kan vergeet, het die potensiaal om God se koninkryk uit te brei. Diegene wat God onthou, sien nie beter of slegter tye nie, maar slegs die noodsaak van hul roeping in die betrokke tyd.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link