Psalm 22: 26-29

Volgens statistieke is daar 195 lande wat in die wêreld erken word. Teen Maart 2020 het die wêreldbevolkings 7,8 biljoen bereik. Daar is meer as 6 000 tale wêreldwyd, alhoewel verskillende bevolkingsgroepe soms dieselfde taal praat. Die aantal bevolkingsgroepe ter wêreld word geskat op meer as 11 000.

Is die Here koning oor al die volke? Volgens die Bybel is die antwoord ’n besliste Ja! Psalm 22, wat aan koning Dawid toegeskryf word, bring vir ons die boodskap dat, selfs te midde van pyn, lyding en swaarkry, God steeds Koning is. Die Here is Koning oor alle volke.

Enige regeerder heers oor ’n groep mense. Dawid het as koning regeer oor die 12 stamme van Israel. Hy het sy koninkryk uitgebrei deur die grondgebied te vergroot. As koning het hy die volk se probleme, vrese en vreugde meegemaak. Maar Dawid het ook teenspoed, hartseer en lyding beleef. As koning het hy self ook foute gemaak en die bitter nagevolge gedra. Hy het geweet dat ’n aardse regeerder net ’n mens is en daarom leiding, raad en hulp nodig het. Dawid het na die Here opgesien in sy nood. Hy keer telkemale terug na die Here. Elke keer erken hy dat die Here die ware Koning is. Hyself is maar koning oor een volk, maar die Here is Koning oor al die volke! Die Here is vandag steeds Koning oor al die volke, oor elke regeerder, elke president en elke minister.

Wanneer ons weer opnuut die Here erken en aanvaar as Koning, sal ons die geborgenheid van sy Koningskap beleef. Ons hoop altyd dat mense oral in die wêreld die Here sal erken en hulle tot Hom sal bekeer, dat alle volke die Here sal erken as Koning.

Gebed

Here, gee dat ons U as ons Koning sal aanvaar en so sal leef dat ook ander volke sal besef dat U waarlik Koning is. Amen.

Ds Michael Müller, Klerksdorp-Wilkoppies

af
af
Deel met behulp van
Copy link