Psalm 72                                 

Ou-Testamentici vind spore van ’n nuwejaarsfees van ou Israel in talle tekste. Tydens hierdie fees sou die koning simbolies sy troon bestyg namens Jahwe (die Here). Die koning is beskou as een wat namens die Here regeer. ’n Nuwe koning se troonbestyging het dit ook telkens bevestig: Jahwe is Israel se eintlike koning. Die nuwejaarsfeeste en troonbestygings vier dit. Só vier hulle dankbaar dat God regeer en dat hulle by God geborge is. Pelgrims van oral het in Jerusalem aan die vieringe deelgeneem.

Hiervan praat Psalm 72. Dit is ’n gebed dat die eintlike Koning die mensekoning sal leer om reg te regeer. Daarmee bid pelgrims dat die koning sal sorg vir reg en geregtigheid en so misdaad en uitbuiting sal voorkom. Hulle bid dat hy hulle met ’n sterk weermag sal beskerm teen invallers. Hulle smag na ’n lewe van vrede en geregtigheid sodat hulle in veiligheid kan werk en leef. Aandagtige lesers snap dat die bevolking magteloos was teen ’n swak koning wat sy plig versuim het en hulle weerloos gelaat het. God is hul enigste toevlug, Hy, die eintlike Koning…

Ons leef in ’n grondwetlike demokrasie. Dit bied ons wettige maniere van verset teen swak regerings. Tog kan selfs ’n demokrasie ondermyn word, byvoorbeeld deur staatskaping, magsmisbruik en korrupsie. So word burgers ontneem van heelwat meganismes van verset, en weerloos gestel teen onreg en geweld. Die evangelie herinner ons dat Jesus die koninkryk van God verkondig en gevestig het: ’n ander soort koning en ryk. Een van barmhartigheid, geregtigheid en liefde. Om hierdie ryk te vestig, het Jesus gesterf. So skenk die barmhartige Koning geregtigheid aan onverdienstelikes. So neem Hy vir ons verantwoordelikheid. Regerings kom en regerings gaan, maar die koninkryk van God is ewig. Die Koningseun met die doringkroon aan die kruis waarborg dit. Daarom leef ons met geborgenheid en hoop, nie dat dinge sal beter gaan nie, maar dat ons te alle tye aan die Hemelkoning behoort. Ons leef anders: met barmhartigheid en gehoorsaamheid aan die Liefdeskoning se gebod.

Gesang 332: 1-4

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link