Markus 14: 3-9

Wanneer ons praat oor God se werk in die kerk, is die vraag of ons sy handelinge werklik sién en of ons dit maklik miskyk. Dit is makliker om iets besonders mis te kyk as wat ons besef. Ons sien die werklikheid met ons eie vooropgestelde idees. Jou brein beskik te eniger tyd oor soveel inligting om te verwerk, dat prosesse wat spontaan gevorm kan word, gekies word sodat jou brein aandag kan gee aan nuwe inligting wat geprosesseer moet word. Dit veroorsaak dan dat ons maklik belangrike dinge miskyk, omdat ons breine nie werklik alles prosesseer wat ons oë sien nie, maar eerder hooftrekke verwerk, en as dit bekend is, die res van die inligting self invul.

In Markus 14: 3-9, waar vertel word van Jesus se salwing in Betanïe, lees ons van dissipels wat kyk maar nie sien nie. hoor maar nie luister nie. ’n Onbekende vrou salf Jesus met duur nardusolie. Dit is ’n profetiese handeling oor die dood van Jesus wat voorlê. Die dissipels is verbaas en kwaad oor hierdie handeling, want hulle verstaan dit glad nie. In hierdie stadium het Jesus sy dood reeds drie keer aangekondig, en steeds sien die dissipels nie raak wat aan die gebeur is nie. Dit is omdat hulle nog die beeld van die Messias as vegterheld, wat die Romeinse regering moet oorneem, in gedagte het. Jesus se dood is nie deel van hul prentjie nie. Hulle kon gedeel het in die oomblik, maar hulle mis die profetiese handeling omdat hulle verblind word deur hul eie verwagting van hoe die Messias se lewenspad sal loop.

Dit is nodig om ons eie verwagting van hoe God tussen ons werk opsy te skuif, sodat ons nie verblind word deur ons eie vooropgestelde idees nie, en sodat ons God se werk in die kerk, tussen ons, kan waarneem en waardeer.

Ds Thomas Dreyer, Malelane

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap