Efesiërs 4: 25-32

Ons teksgedeelte sê hier vir ons as iemand jou kwaad maak, word kwaad, maar moenie sondig nie. Ons kan soms nie anders as om kwaad te word nie. Seer veroorsaak woede. Ons kan nie toelaat dat woede ons woorde, ons optrede of ons keuses beheer nie. Dit is die moeilike deel. Ons is geregverdig in ons woede en ons het gedink ons is geregverdig in ons optredes. Efesiërs leer ons hoe om ons woede te hanteer. Moenie dat die son sak terwyl jy nog kwaad is nie. Leer om so gou moontlik jou woede te hanteer. Moenie dit vir altyd saam met jou dra nie. Onopgeloste woede het ’n invloed op jou lewe. Wanneer ons optrede uitstel, verander die toneel heeltemal. Dit wat die woede veroorsaak het, is al vergete – ons is nog kwaad, maar ons weet nie vir wie nie. Ons word eendag net kwaad wakker en verstaan nie hoekom nie.

Dit is soos om sonder behandeling weg te loop van ’n ongelukstoneel. Soms dink ons ons seer sal regkom as ons net kan wegkom. Die dokter by die ongelukstoneel sal vir jou sê dit is nie so nie, jy moet hospitaal toe gaan vir behandeling van jou wonde. Jy moet eers herstel. Wanneer jy weg is van die toneel, is alles nog nie reg nie. Jy haal net jou woede op iemand anders uit. ’n Ander verhouding gaan nou skade ly. Ons is so weerloos en teer dat herstel en genesing nodig is, voordat ons oorgaan na ’n ander verhouding. Die toneel kan verander, maar dit beteken nie dat genesing plaasgevind het nie. Jy dra letterlik net die seer van die vorige oor na ’n nuwe of ’n ander toneel. Daarom kan ons nie woedend bly vir mense wat ons kwaad maak nie.

Hoe doen ek dit? Met die vergewensgesindheid wat die evangelie ons leer (vers 32): Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

Dr Hein Delport, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link