Lukas 10:  25-37

Op ’n keer kom ’n wetgeleerde by Jesus en vra wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe. Toe Jesus hom vra wat in die wet staan, antwoord hy dat jy God en jou naaste moet liefhê soos jouself. Maar soos ons ook so dikwels, wil die man hom toe self regverdig deur te vra wie sy naaste is. Die gelykenis wat Jesus vertel, ken ons baie goed.

Vir wie moet ons ’n verskil wees? Vir ons naaste. Maar wie is my naaste?

Die gelykenis word vertel vanuit die perspektief van die een wat langs die pad lê. Jesus vra in vers 36: Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het? Kom ons stel dit anders. Dink jouself in in die posisie van die man wat langs die pad gelê het. Wie van hulle was vir hom ’n naaste toe hy daar gelê het? Tog die derde een, die een wat die wonde verbind het en hom gehelp het.

Jesus wil hierdie wetgeleerde, en ons, help om ons stereotipes van wie my naaste is in wie se lewe ek die verskil moet wees, te deurbreek. Nie my familie, my volk, my vriende is my naaste nie, maar die een wat my help wanneer ek spreekwoordelik langs die pad lê en bloei. Wat wil Jesus vir ons leer? Hy wil sy hoorders, ook ons, leer om soos die Samaritaan te wees. Hierdie man se selfopofferende daad is die bewys dat hy ook die man langs die pad as sy naaste gesien het. So moet ons ook maak.

Daarom moet ons, as gelowiges, die verskil wees in almal wat ons pad kruis se lewens. Gebruik elke geleentheid, want wie weet, dalk is jou daad die verskil wat iemand vir die Here red.

Ds Willem Sauer, Waterberg

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link