Lukas 14: 16-23
Die gelykenis van die maaltyd word dikwels verstaan as ’n storie van Jesus wat iets wil sê van God se genade, vergifnis, goedheid en omgee vir ander. Die gasheer (God) wil hê dat almal gered word, en nooi daarom weer en weer, tot die feessaal vol is. Wanneer ons egter die gelykenis lees teen die kulturele agtergrond van die wêreld waarin Jesus dit vertel, kan die gelykenis ook iets anders beteken. In die wêreld van Jesus was veral een saak baie belangrik, naamlik iemand se eer en status. Almal het gesmag na meer en meer eer, en ’n hoë status.
Een van die wyses waarop iemand sy eer kon vermeerder en sy status kon verhoog, was deur mense na ’n maaltyd te nooi. Wanneer iemand die uitnodiging aanvaar het, was so iemand verplig om die een wat genooi het later self uit te nooi. Indien dit nie gebeur het nie, is so iemand as skaamteloos gesien, iemand sonder eer. Omdat hierdie die verwagte optrede van diegene was wat uitnodigings na etes aanvaar het, het gashere gewoonlik mense met ’n hoër status as dit wat hulle gehad het, genooi. Hoekom? Want as dié met ’n hoër status die uitnodiging aanvaar het, het die gasheer se status gestyg, en sy eer het meer geword.
In die gelykenis, sien ons, aanvaar niemand die gasheer se uitnodiging nie. Die rede hiervoor was heel waarskynlik omdat die genooides geoordeel het dat die gasheer se status nie hoog genoeg was om sy ete by te woon nie. Bywoning sou beteken dat hul status sou verlaag, asook hul eer. Wat maak die gasheer dan? Hy stuur sy slaaf om in die strate en gangetjies van die stad die armes, kreupeles, blindes en verlamdes te nooi. Hulle wat as onrein beskou is. Deur hulle te nooi, verloor die gasheer alle status in die oë van ander. Wat meer is, hy nooi hulle wat hom nie sou kon terugnooi nie.
So, sê Jesus, lyk die koninkryk. Die koninkryk is teenwoordig daar waar mense nie dink dat hulle belangriker as ander is nie, en aan ander goed doen sonder om iets terug te verwag. Lewe ons so? Is dit hoe ons die koninkryk van God sigbaar maak?
Prof Ernest van Eck, Emeritus/Kanada
