Psalm 73
Hier, by Asaf, lees ons in die eerste 20 verse nie net van die samelewing in die tyd van die Psalm nie, maar ons lees ook baie direk van ons eie tyd en die mensdom vandag: Mense leef vandag nog sorgeloos (vers 4). Mense is vandag nog bedek met ’n kleed van geweld (vers 6). Mense onderhandel vandag nog met die bose (vers 8). Mense vermeerder vandag nog hul rykdom op ’n sorgelose manier (vers 12).
Ons wêreld vandag lyk en klink dan nie veel anders as die lewe van die mense waaroor Asaf skryf nie. Dit klink vir ons asof Asaf baie worstel met die mense wat so lewe. Dan draai die hele atmosfeer van die Psalm in vers 21. Asaf begin na meer vra as waarna die mense hier op die aarde vra, hy begin dieper vra, hy begin wyer vra as dit wat op die aarde aangaan: Wie is daar vir my in die hemel? (vers 25).
Asaf vra die vraag, want hy besef dat die dinge wat hier op die aarde is, nie al kan wees wat daar is nie. So asof hy sê dat die dinge hier op die aarde nie vir hom voldoende is nie, en hy soek nie meer daarna nie: Hy soek nie geweld en rykdom of roem nie, en hy wil nie regtig met die bose onderhandel nie. Daar is ’n draaipunt in Asaf se lewe.
Vandag weet ons dat hierdie draaipunt in ons lewens, soos ook in Asaf se lewe, deur Jesus veroorsaak word. Jesus kom na die aarde toe en sê vir ons deur sy lyding en kruisdood dat hierdie aardse dinge soos in Psalm 73: 1-20 nie dit is wat ons nodig het nie. Jesus kom na die aarde toe en maak die woorde van Asaf konkreet wakker in ons harte: …die nabyheid van God is vir my goed! (vers 28). Jesus se liefde maak God se nabyheid vir ons nader as ooit.
Ds André Steinmann, Piet Potgieter
