Genesis 5: 21-24; Hebreërs 11: 5-6

Ons moet die inleiding wat telkens herhaal word mooi hoor: omdat Henog geglo het. Dit gee telkens die sleutel tot wat volg. En wat hierdie geloof behels het, word kort en kragtig só aangedui: Hy het geleef soos God dit wou, of dan – God met sy lewe behaag. Ons weet nie veel meer oor Henog en hoe sy lewensverhaal verloop het nie, maar ons weet dat God vir hom die begin en einde in sy lewe was, en dit is genoeg. Hy het nie ʼn tree gegee of ʼn gedagte vertroetel sonder dat God daarin die wesenlike rol gespeel en die koers aangedui het nie. Om met God te wandel, beteken duidelik dat God nie ʼn terloopse rol gespeel het of net so nou en dan belangrik was nie. God was die middelpunt en wesenlike doel van sy ganse bestaan.

In die latere Jodedom het Henog en die verwondering oor Henog ʼn groot rol gespeel Daar is ook apokriewe boeke (wat nie in die Bybel opgeneem is nie) wat sy naam dra. Dit het sekerlik ʼn rol gespeel en daartoe bygedra dat dié wonderlike uitspraak oor Henog gemaak is: Hy het die dood nie gesien nie en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Maar dit is klaarblyklik nie die belangrikste van Henog se lewe dat hy nie die gewone dood gesterf het nie. Die getuienis dat sy lewe deur sy geloof gevorm is, bly die hoofsaak. Daarby leer die brief verder uitdruklik dat ʼn mens God nie kan behaag sonder geloof nie. Jy kan net met opregtheid tot God nader indien jy glo dat God die lewende werklikheid is – al kan jy net stil word voor die misterie en grootsheid van God se bestaan.

Oor die beloning waarvan hier sprake is, hoef ons nie verder te dink as die inleidende woorde by elke “geloofsheld” soos in die geval van Henog nie: Omdat Henog geglo het, kon hy met God wandel, kon hy God behaag. Daar is geen groter beloning as dit nie.

Prof Piet Geyser, Emeritus/Meyerspark

af
af
Deel met behulp van
Copy link