Johannes 21: 1-14

Ons wil nie vandag tyd mors nie, veral nie met onbenullighede nie. Tyd is dikwels vir ons net te kosbaar. Maar ons vergeet dikwels dat God nie so werk nie. Hy het tyd geskep. In ons teksgedeelte sien ons weer hoe Jesus ook saam met ons aansit en aandagtig luister en saam lag.

Augustinus skryf in die vyfde eeu ’n gebed tot die Here. Hy bid en vra die Here om Hom by te staan. Hy sê: …daar kom dae wanneer die laste wat ek dra my skouers skaaf en my neerdruk; wanneer die pad vorentoe droewig lyk en eindeloos, en die lug vaal, troosteloos en dreigend; dae wanneer die lied in my lewe stil word, wanneer my hart eensaam is en my siel moedeloos word.

Om saam met Jesus aan ’n tafel te sit en eet, is ’n groter voorreg as om Hom net te sien en van Hom te weet. Om saam met Christus te eet, gee vrede en gemoedsrus, want dit gee God se teenwoordigheid. Ons is nou in direkte gesprek met Jesus. Ons kan oorleun na die kant waar Jesus sit en ons kop op sy skoot neerlê, want daar staan niks tussen ons en God nie. Dit is God wat met ons wil praat. Met ons in gesprek tree.

Daarom kan ons ook nou soos Augustinus bid, kan ons ook vir die Here vra: Laat skyn tog u lig op my pad; rig my oë op na die hemel van u belofte; snaar my hart vir die lied; herinner my aan die gemeenskap van die heiliges en die geloofshelde van die eeue; en sterk so my gees om ook ander, wat die pad saam met my loop, te onderskraag tot u eer en verheerliking.

Vir ons het vrees, onsekerheid en angs hul angels verloor. Dit is God wat in ons lewe teenwoordig is, Hy maak ons heel en gesond. Dit bly vir ’n gelowige belangrik om tyd saam met God deur te bring. Soek na geleenthede saam met God in jou lewe.

Dr Hein Delport, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link