Lukas 2: 1-20 (AFR2020)

Dit is deel van ons menswees om dinge te bewaar, te bêre. Ons huise se kaste en laaie is vol van al die dinge wat ons bêre. Soms gebruik ons iets een keer, bêre dit en vergeet daarvan. Dit is nie net dinge wat ons bewaar en bêre nie. In ons brein en gedagtes bewaar ons belewenisse, ervarings wat ons gehad het, dinge wat met ons gebeur het, ons bewaar dinge wat ons gelees het, geleer het. Dit wat ons in ons gedagtes bewaar, bêre, het ’n invloed op hoe ons lewe en optree elke dag.

Ons teks sê dat Maria die woorde wat oor Jesus gesê is, gekoester het, in haar hart daaroor bly nadink het. Om iets te koester, is anders as om dit te bewaar of te bêre. Wanneer ’n mens iets koester, gaan dit daaroor dat dit wat gekoester word, goed versorg, vertroetel, warm en lewend gehou word. Dit is nie dieselfde as om iets te bêre en dan daarvan te vergeet nie.

Dink bietjie vir ’n oomblik na hoeveel keer het jy al in jou lewe Kersfees gevier. Hoeveel keer het jy al die gedeeltes oor Jesus se geboorte, Jesus se woorde wat aan ons oorgedra is, in die Evangelies gelees en gehoor? Wat maak ons met die woorde wat ons oor Jesus het, van Jesus weet? Hoe gaan leef ons na Kersfees? Gaan bêre ons hierdie woorde, soos wat met baie van ons Kersgeskenke gebeur, iewers op ’n rak of in ’n kas? Of koester ons Jesus en Jesus se woorde in ons gedagtes en harte – hou ons dit lewend? Hou dit ons lewend?

Mag die woorde wat ons van Jesus hoor, in ons harte bly leef. Mag ons vandag en ook in die dae wat nou kom na Kersfees, vir Jesus en al die woorde wat ons oor Jesus gehoor en gelees het, in ons harte koester. Mag ons Jesus lewend hou in ons harte en dan ervaar hoe Jesus ons lewe gee, krag gee, ons harte en gedagtes verander.

Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten

Share via
Copy link
Powered by Social Snap